ENKELSNIT
Hier staan ons nou.
Meer as oorwinnaars.
Swaarkry is universeel, elkeen van ons is iewers in ons lewens in een of ander stryd of beproewing gewikkel. ‘Hier staan ons nou’ is ‘n lied oor die reis in die krag van liefde deur lewensvalleie tot die uiteindelike asemrowende uitsig van oorwinning op die kruin van ‘n onmoontlike berg.
DIE STORIE
Hoop deur elke lewensvallei.
Jy was nog altyd by my.
Elkeen van ons is iewers in ons lewens in een of ander stryd gewikkel. Sommige van ons stu elke dag vorentoe met die hoop op deurbraak, op ‘n oase in die woestyn, op die verskyning van 'n wolk met 'n goue randjie. In die wag leer ons tamheid ken. Vrees-gedagtes dat daar nooit uitkoms en ‘n einde aan die swaar sal wees nie, probeer soms die oorhand kry en wanhoop probeer ons wys maak dat ons vertroue op God verniet is. Gedagtes dat die stryd ons gaan oorwin, treiter en tap ‘n gemoed wat reeds swaar dra.
Dis in die uithou, die aanhou, die vashou, die weer opstaan om net nog een tree vorentoe te tree dat ons waardevolle lesse leer wat ons nooit in ander situasies sou kon leer nie. Dis in die stryd dat ons uithouvermoë, geduld en oorgawe aan God oefen totdat geloofsvertroue in ons, sterk spiere ontwikkel het. Dan skielik stroom die lig soos dagbreek oor die horison om ‘n donker landskap te verlig, die wolke verdwyn & oorwinning raak ons deel.
In die dale was ons nooit alleen nie, dis Sy hand wat ons bly aanspoor & bewaar het. Elke beproewing het ‘n rakleeftyd, die son SAL môre opkom as ons deur die nag moed kan hou, aan ‘n toekomsverwagting, Sy liefde & nabyheid deur die valleie van die lewe vas kan hou, selfs wanneer ons dit nie sien of voel nie.
LIRIEKE
Ontmoet ek die einde van my
Hier staan ons nou
Vers 1:
My hart was koud
My woorde was swaar
Deur die tye van bitter en seerkry
Het jy my siel bewaar
Voor-Koor 1:
Van opstaan en gly, stry & baklei
Nog een keer probeer, soveel lesse geleer
Ontmoet ek die einde van my
Dis daar waar ek jou kry
Koor:
Hier staan ons nou
Meer as oorwinnaars
Hier staan ons nou
Met ons oë oor ‘n groot vallei
Jy was nog altyd by my
Vers 2:
Soveel keer het ek gaan sit
In moegheid net gebid
Dis jou hand wat my pad bly lei het
My kort-kort van opgee gekeer bevry het
(Koor)
Brug:
Deur sukkel en swoeg het ek liefde ontmoet
Het ek al meer vertrou dat Hy alles vashou
Koor:
Hier staan ons nou meer as oorwinnaars
Hier staan ons nou met ons oë oor ‘n groot vallei
Hier staan ons nou meer as oorwinnaars
Hier staan ons nou met ons oë oor ‘n groot vallei
Jy was nog altyd by my
Jy was nog altyd by my